Pretoria Boeremark

Pretoria Boeremark

 

Ek het nog altyd van die Boeremark gehou, van die eerste een langs die WNNR, later by die Pioniers Museum en nou by hulle nuwe tuiste in Silverton.

Die groot bome by die Pioniers Museum sal ek mis, maar die parkering chaos glad nie. Een van die eerste dinge wat my beindruk het by die nuwe perseel was die duidelik afgebakende parkeerplekke.  Daar is ook onlangs heelwat bome geplant.

Parkering Boeremark

Die ingang is in Morelettastraat en die uitgang in Krigestraat. Gaan maar vroeg, die afgelope Saterdag was ons later as gewoonlik daar en die karre het  2 blokke voor die hek al in Morelettastraat begin opdam. Vanuit Pretoriaweg het die karre in Van Wykstraat al begin opdam by die Palms Renaissance. Die mark begin 05h30 tot 9h30.

“Nou wat koop jy by die Boeremark?” vra iemand my onlangs.

Die antwoord is maklik: kos, plante en boeke.

By Ben Pretorius se stalletjie koop ek en Emke al jare  pap en kaiings. Ek het al heelwat bekendes by die einste stalletjie raakgeloop.

Heerlike kaiings

 

Feroz se speserye is ook ‘n handige stalletjie vir goed soos kaneelstokkies, soms het hy vars borrie (turmeric) en hy sal ook vir jou kerriespeserye meng na jou smaak. As jy gelukkig is het hy selfs safraan in voorraad.

Feroz se speserye

Groente-saailinge en kruie koop ek graag, soms loop ek iets besonders raak soos die bloubessieplant wat ek verlede jaar gekoop het. Die is goed aan die groei en ek verwag my eerste oes vanjaar jaar.

Daar is 2 dames wat tweedehandse boeke verkoop wat ek graag ondersteun. Vir Jacqueline ken ek al meer as 14 jaar, sy het altyd vir my die “Hello en OK” tydskrifte gehou, al my Herman Charles Bosman boeke kom ook van haar af.

Jacqueline se boeke

Leesa se boekstal laat my altyd wens ek het baie geld, sy het wonderlike boeke.

Leesa se boekstal

Een van die hoogtepunte van die Boeremark is al die bekendes wat ek daar raakloop, soms is dit my Pa, of sy broer, Johan en sy vrou Marietjie, iemand van ons kerk en die Saterdag, my beste vriendin, Wanda en my buurvrou, Nellie.

Wanda en Olga
Nellie en Bill
Pieter

Gaan net een Saterdagoggend, gaan vroeg, drink n koffie, eet pap en kaiings, kuier met vriende, maak nuwe vriende, gaan net … jy sal dit geniet!

Vir meer inligting oor die Boeremark of stalletjies www.pretoriaboeremark.co.za



Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *